Local newsNews

Plaaslike kunstenaar mik vir die sterre

Tiaan Koekemoer gaan binnekort sy eerste enkelsnit vrystel.

Die plaaslike kunstenaar, Tiaan Koekemoer het geen bekendstelling nodig nie en werk onverpoosd om sy sangloopbaan te bevorder.

Hierdie 31-jarige kunstenaar woon sy lewe lank al in Geduld Uitbreiding. Hy het in 2012 aan die Höerskool Hugenote matrikuleer en is tot vandag toe nog ‘n trotse Hugie.

Hoewel sy loopbaan in ‘n baie uitdagende tydperk afgeskop het, het dit hom nie gekeer om ‘n reuse sukses daarvan te maak nie.

Sy sang loopbaan het net voor die Covid-19 inperking vlam gevat toe hy die geleentheid kry om vir die bekende kunstenaar, Elandré ‘n voorvertoning te doen.

“Daardie aand het my hele lewe verander. Om voor 600 mense te sing en te sien hoe hulle die musiek geniet was vir my ‘n belewenis. Ek het daar besef dat dit beslis iets is wat ek meer gereeld wil doen,” vertel Tiaan opgewonde.

Hoewel daar ‘n mate van musiek agtergrond in sy familie is, was sy droom maar soos elke ander jong seuntjie – om eendag ‘n rugbyspeler te wees.

“Ek het nooit in my lewe gedink ek sal op ‘n verhoog staan nie, wat nog van vir die mense sing.”

Tiaan is eintlik ‘n tekenaar van beroep en spandeer graag kwaliteit tyd saam met sy vriende en familie. Hy geniet die buitelewe en wanneer hy nie teken of op die verhoog staan nie, sal jy hom by die viswaters, gholf of skietbane kry.

Hy is tans in die proses om sy eerste enkelsnit te skryf. Tiaan werk saam met ‘n bekende in die musiekbedryf, Hugo Ludik en sonder om teveel weg te gee, erken hy dat sy aanhangers hulle sokkie skoene solank moet af stof.

“Ek het besef dat as jy ‘n naam wil maak as ‘n kunstenaar moet jy jou eie liedjies uitbring. Om ander kunstenaars se liedjies te sing is lekker tot op ‘n punt, nou is dit tyd vir my om my eie liedjies uit te bring,” het Tiaan vertel.

Hy voeg by dat hy dit meer geniet om Afrikaanse liedjies te sing omdat die Afrikaanse gehoor, volgens hom, die lekkerste saam sing. Hoewel hy soms Engelse liedjies ook sing, meen hy dat hy liedjies kies wat die gehoor kan saam sing en hulle laat ontspan.

Tiaan is ‘n baie talentvolle en gedrewe kunstenaar, en met sy vasberadenheid gaan hy nog baie in sy sang loopbaan bereik.

Hy sluit af met: “Ek droom daarvan om ‘n voltydse kunstenaar te wees en een van my grootste drome is om eendag op ‘n groot verhoog soos Afrikaans is Groot of Krone op te tree.”


LEES OOK: One woman’s journey to diagnosis, hope, and advocacy

LEES OOK: Ekurhuleni urges shoppers to prioritise food hygiene and check expiry dates


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button