Local newsNews

Dis Operasie Dorp skoonmaak en kruis bou dié naweek

As jy graag betrokke wil raak by Die Kruistog-projek, gesels met Juan Greeff (koördineerder) by 079 874 1860.

Vlytige vingers van oud en jonk het voorverlede Saterdag die uitdaging in Vredefort aangepak om te kyk wie die meeste plastiekblomme in ‘n uur kon vou vir vanjaar se Kruistog-vlot. Die eindresultaat was 2 264 blomme presies gevou om in die ogiesdraad te pas wat die kroon van vanjaar se vlot sal versier.

Die wenner was Theresa Joubert wat 173 blomme kon vou, met Michelle Roos kort op haar hakke met 171 blomme. Beide Theresa en Michelle het elkeen ‘n spesiale Kruistog T-hemp en pet as prys ontvang.

Die gesellige saamkuier by die Dinamika-gemeente waar die kompetisie gehou is, sien jy elke dag van die week wanneer daar van 08:00 tot minstens 13:00 al vir ‘n maand lank gewerk word om die minstens 20 000 plastiek blomme te vou.

Vir die eerste Kruistog wat vier jaar gelede gehou is, was 44 000 blomme nodig vir die Kruis-vlot, vertel Juan Greeff, een van die organiseerders van dié besondere Paasbelewenis wat vanjaar op Goeie Vrydag, 18 April in Vredefort gehou word.

Met die Kruistog stap duisende mense jaarliks die 3km sirkelroete met kruise deur die strate van dié Vrystaatse dorpie tot by die dorp se sportgronde waar die Kruistog ook begin.

Langs die roete is verskeie stasies wat verskillende uitbeeldings uit die lewe en bediening van Jesus voorstel.
“Die Kruistog is ‘n gemeenskapsprojek, aangebied deur die gemeenskap van Vredefort, en ter wille van die gemeenskap,” vertel Greeff. Deelname is heeltemal gratis.

Dorp skoonmaak
Hierdie Saterdag word die dorp skoongemaak ter voorbereiding van die Kruistog. Daar sal om 08:00 by die kerksaal van die NG Kerk Vredefort bymekaar gekom word.

Na koffie en ‘n lekker worsbroodjie sal die strate ingevaar word om skoon te maak. Vanaf 10:30 begin die kruisbou-aksie by die Dinamika-gemeente in Vredefort. Kom bou jou kruis vir die Kruistog. Daar gaan hout en skroewe wees. Elke hand is nodig om te help. Die dag word afgesluit met ‘n hamburger bou om 13:00.

Ligtoring
Vanjaar gaan daar ook ‘n ligtoring in Vredefort gebou word vir die Kruistog– wat sover bekend die enigste ligtoring in die Vrystaat sal wees. Die ligtoring word opgerig by Cornerstone Pub & Grill, by die Parys-ingang van die dorp, en sal uit klippe gebou word wat van verskillende plase in die Vredefort Koepel af kom.

“Dit gaan ‘n pragtige tentoonstelling wees van die verskillende klip-formasies wat in die Vredefort Koepel voorkom, en boere word genooi om allerhande soorte klippe van hulle plase af te bring vir die bouwerk aan die ligtoring,” sê Greeff.

Die fondasie vir die ligtoring is reeds gegooi en die eerste klippe is verlede week van Mimosa Grove gekry. “Die doel van die ligtoring is om Jesus Christus, die lig van die wêreld, uit te beeld,” verduidelik Greeff.

“‘n Gedenksteen sal op die fondasie aangebring word wat dié boodskap uitdra, en ‘n regte flitsende vuurtoring-lig gaan in die bokant van die toring wees om almal daaraan te herinner soos wat hulle Vredefort binnekom.”

As jy graag betrokke wil raak by Die Kruistog-projek, gesels met Juan Greeff (koördineerder) by 079 874 1860.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button